Hoe moet ek Auschwitz aan my kinders verduidelik?

Soos wat ek hy die agterdeur van die hotel uitgaan tref die vars lug my. Asof ek nie al reeds vlak genoeg asem haal nie. Ek het redelik impulsief ‘n trip na Auschwitz bespreek om die Sondagoggend voor ek vlieg te benut.

‘n Goeie vriend het eens vir my gesê ek wurg darem die murg uit die lewe, laat ek hom nie teleurstel nie, dink ek.

Ek was in Katowice vir werk, en het eers besef dat Auschwitz om die draai is toe ‘n kollega van my, wie helfde van sy familie verloor het in Auschwitz, my daarvan ingelig het nie.

Ek het geweet ek moet gaan, nie alleen omdat ek nie weet wanneer ek weer in die gewestes sal wees nie, maar ook omdat, met die opkoms van redelike sterk regse partye in Europa en elders, mens nie weet wat die toekoms vir Auschwitz inhou nie.

Hoe lank sal nog aanvaarbaar wees om herhinder te word wat die koste van grootskaalse “ontmensing” is?

Na ‘n vinnige stap deur die strate van Katowice land ek voor in die swart bussie wat rits deur die strate. Sover my beperkte taxi ervarings in Pole strek kan ek sê: die Pole steur hulle nie veel aan spoed beperkings en so nie. Maar gordels moet gedra word. Vasgegordel staar ek by die venster uit. Ek probeer dink hoe dié land moes wees 30 jaar terug. Die gids vertel van sy familie wat al hier is van die Middeleeue. Sy oupa het nog altyd gebly waar hy bly, en het al 3 verskillende paspoorte gehad in sy lewe.

Geen land se geskiedenis is eenvoudig nie, dink ek.

Die gids tel sy foon op terwyl hy ‘n verkeersirkel ingaan. “We will be there in 3 minutes”. Ons is naby. Ek sit en staar na die huise en die gewoondheid van dit alles. Mens verwag neon tekens en dalk ‘n zepplin in die lug wat aandui dat mens nou ‘n gebied nader waar rondom 1,3 miljoen mense om die lewe gebring is deur die te doen van ander mense.

Maar die gewoonheid van dit alles, dit is vir my opvallend. Ons kan enige plek op aarde wees.

Treinspore in dié area is nie net treinspore nie.
Treinspore in dié area is nie net treinspore nie.

Ewe skielik moet ons stop vir ‘n trein wat oor die pad gaan. Ek is sommer amper alreeds in trane. En oral sien ek treine nou. Rillings. Tot ons afdraai na Auschwitz. Hier is die treinspoor nou een met die beton en gras. Dis duidelik dat geen trein meer hierheen vaar nie. Nie wieder!

Twee aande terug vertel ’n Noorweegse kollega hoe ‘n skoolreis na Auschwitz half tradisie is in Noorweë. Ek wonder hoe ek eendag dié aan my kinders sal verduidelik. Hulle met Duitse bloed in hulle are. Hoe dra mens dit op jou lyf, waar file mens dit in jou gedagtes en jou verstaan van die wêreld? Hoe neem mens verantwoordelikheid vir die gevolge van jou voorvaders sonder dat dit ‘n ondraagbare las word? En hoe voorkom mens dat die sondes van jou voorvaders jou sondes raak? Of reken mens die sondes van die vaders toe, tot in die derde of vierde geslag? Hoe neem mens verantwoordelikheid, sonder om skaam te wees?

En die orkes speel…

Ons klim uit die bus. Reeds van vroeg is daar honderde mense. Dit klink soos die toring van Babel. Auschwitz kry 2 miljoen besoekers ’n jaar. Ek wonder wat dit is van ons, as mense, wat maak dat ons soms ooggetuies wil wees van menswees op sy slegste. Soos om onwillekerig na ‘n motorongeluk te kyk.

Daar is ‘n wurgende stilte. In die dooie stilte staar ek na die blou lug, die groen gras en die rooi geboue. By die ingang is ‘n wilgerboom. Weeping willow. Dit is onwerklik. Dis vir my mooi. En weereens, so gewoon. Ek probeer my verbeel hoe dit hier moet lyk in die winter. En dan, hoe dit moes lyk toe die plek oorvol was, met die rookwolke van die krematoriums in die agtergrond. Die orkes wat langs die kombuis speel sodat die gevangenisse op die ritme van musiek verby die swaar gewapende soldate masjeer om getel te word. Orkeste wat musiek moes speel terwyl die soldate kies wie moet dadelik na die gaskamers gaan, en wie moet, vir eers, gespaar word.

En dan nóg musiek tot dié wat se lot bepaal is by aankoms van die kamp, in die gaskamers instap. Dit is net die Sonderkommandos (mede-gevangenisse wat forseer is om te help om ontslae te raak van die oorledenes se lyke) wat meer aan selfdood gesterf het as die musiekante. Dit is met dié inligting wat die toer begin.

Wie dra die skuld?

Die gidse word spesiaal opgelei om die Auschwitz toere te lei. Die drywer vertel vir my hoe ’n gids mense wat navrae het oor hulle familie moet kan inligting gee. Ek dink aan my Kanadese kollega wat nie wou saam nie, omdat hy die helfte van sy familie in Auschwitz verloor het. Toe ek terug kom in Suid-Afrika vertel ‘n vriend vir my sy oupa se hele familie is ook vermoor in Auschwitz. ‘n Pa by die sokker se oupa het die laaste skip Suid Afrika toe gekry, en, ten spyte van die Alien’s Act wat probeer het om die Jode uit Suid Afrika te hou, die land sy tuiste gemaak. Hy wys vir ‘n foto van sy oupa. Langs sy oupa se foto is ‘n medalje wat sy oupa gekry het omdat hy in die eerste wêreld vir Duitsland, as volware Duitser, geveg het. Aan die ander kant van die foto is sy oupa se geel Judenstern.

Tasse vol hoop van 'n beter lewe, wat afgevat en uitgeskud is by aankoms.
Tasse vol hoop van ‘n beter lewe, wat afgevat en uitgeskud is by aankoms.

Dat die gidse spesiaal opgelei is is duidelik. Mens staan nooit regtig stil om te bepeins oor wat jy waarneem nie. In die een vertrek is tasse met die name op. Mense wat gedink het klim op ‘n trein om ‘n nuwe lewe in Pole te begin. In die volgende kamer is skoene. “Everything here represents an individual, a human”, sê die gids. “From here, they stopped to be humans and started to be numbers”.

Op ‘n manier is al die uitstallings ‘n uitlokking om groter vrae te vra. Die hele tyd wonder ek: wie dra die skuld? Hoe kom ‘n groep mense tot op dié punt? Wanneer moet mens ingryp en iets stop? Gebeur dié goed maar op die ou end altyd?

In die volgende kamer lê daar ‘n berg hare agter die glas. Mense se hare is afgeskeer na hulle in die gaskamers vermoor is om lappe te weef. Ek gril effens vir die dooie hare en beweeg aan in die stilte. Dan kom die foto’s. Foto’s van ma’s en kinders wat van die treine afklim. Ek huiwer of ek moet asem haal. Ek wil eweskielik onmiddelik by my kinders wees, en ek wil hulle nooit vertel van hoe wreed die mensdom kan wees nie.

Op die foto’s is almal steeds onbewus van wat hulle lot is. “People did not know they were condemned to death, until they were asked to undress.” Rillings.

Deel van die gaskamers.
Deel van die gaskamers.

“Naak het ek uit my moeder se skoot gekom, en naak sal ek daarheen teruggee. Die Here het gegee, en die Here het geneem”.

Die verlore dopperbloed wat halstarrig en ontydig borrel, grinnik ek so in my binneste. Asof die gids se gedagtes met my gedagtes sinkroniseer, sê hy: “Many people ask me where God was during this time. But it was men who did this. Ask where the men were.”

Birkau.
Birkau.

’n Waarskuwing vir die mensdom

Na Auschwitz ry ons na Birkau, die kamp wat gebou is toe Auschwitz te klein geword het. Soos ons by die opgeblaasde krematorium verby stap, oorval ‘n skielike naar my. Beweeg, Elmien, beweeg.

Die opgeblaasde krematorium.
Die opgeblaasde krematorium.

By die grafsteen wat gereken word die grafsteen te wees vir die grootste massagraf in geskiedenis, daar waar die as van die mense gestrooi is, kan ek nie meer terug hou nie. Die trane rol onder my sondbril uit. Geen groot waarskuwings of tekens nie. Net ‘n gat met water in, en die groen groen gras en blou lug. En die stilte. “Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is.” Daar by die donkerste diepstes van menswees.

Die grootste graf.
Die grootste graf.

Die gids haal hier ook diep asem. Daar is ‘n heaviness tussen die vervalle gaskamer en die dam wat die donkerste dieptes van menswees hou. “One should never forget what happened in Auschwitz, we must remember. It must be a warning for humanity. It is your obligation to speak about it”, sê hy. “But we must also look around us, at what this place symbolises now. Look, here we stand, with people for all over the world, and we stand here in peace. This is now a place that connects people.”

En tog reken mense soos Susan Sontag dat te veel onthou, mens bitter maak, omdat daar soveel ongeregtigheid in die wêreld is. Om vrede te maak, sê sy, om te reconcile, is dit nodig dat die geheue beperk is, dat die geheue nie optimaal werk nie.

Die plek mag dalk twee miljoen mense per jaar saam bring. Maar as mens deur die kamp stap is daar ‘n stilte wat dit duidelik maak: elkeen van ons is besig om honderde demone binne ons self te veg.

Aan die einde van die toer waarsku die gids: julle gaan moeg wees vanaand, kyk mooi na julleself. En ek het soos ’n droolpop omgeval op die vlug van Katowice na Frankfurt daardie middag. Ek verwerk nog elke dag sederdien dit wat ek gesien het. Ek weet nie of mens se brein werklik die vermoë het om dit alles te verstaan nie.

Die beddens waar die mense in groepe moes slaap.
Die beddens waar die mense in groepe moes slaap.

Hannah Arendt het antwoorde gesoek deur te skryf oor die vervolging van Adolf Eichmann, een van die groot organiseerders agter holocaust. Vir Eichmann was oorlog ‘n nommerspel. Toe Eichmann tydens sy verhooor in Jerusalem gevra is of dit moeilik was om die tien duisende mense na hulle dood te stuur het hy geantwoord dat dit eintlik maklik was. Want ons taal laat dit toe. Amptssprache. “Amptenaartaal”. Waar mens nie verantwoordelikheid hoef te neem nie, waar mens net kan sê “ek het dit gedoen, want ek moes. Bevele, die wet.”

By die huis lees ek die autobiografie van Rudolf Höss, kommandant van Auschwitz, in die hoop om te verstaan. Dieselfde amptsprache kom na vore: “ek het nie ‘n keuse gehad nie”. Stront! Wil ek skree.

Vir ‘n oomblik af van die padjie van probeer verstaan sonder oordeel. Maar tog, as iemand ‘n geweer teen jou kop hou en sê “doen!” kan jy nou wel kla dat dit nie ‘n lekker of maklike keuse is nie. Maar dit bly steeds ‘n keuse, en ’n keuse waarvoor mens verantwoordelikheid moet vat. Tussen probeer sin maak en probeer verskoning maak is ‘n dun lyn.

Dit het ek ook die afgelope paar jaar opgelet in ons eie gesprekke in Suid Afrika. Mens kan probeer verstaan, om te verhoed, maar om verantwoordelikheid te neem en te aanvaar, om aanspreeklik gehou te word, kan nie deur so verduideliking negeer word nie.

Ek dink terug aan die gesprek wat ek met die bussiedrywer gehad het oor sy ervaring van Aushwitz. “When I visited it the first time, I was too young to understand. After the second time, I never wanted to speak to a German again”, sê hy eerlik. Maar hy het deur die emosies gewerk, en besef: mens kan nie mense persoonlik verantwoordbaar hou vir die dade van ander nie.

Mense se skoene. Die rooiskoene het my opgeval.
Mense se skoene. Die rooiskoene het my opgeval.

Hare

Die vlug na Johannesburg was kalm. Iewers in die nag staan ek op om badkamer toe te gaan. Ek maak my hare los sodat ek gemaklik kan slaap. Soos ek gaan sit val my hare oor my skouers. Ek skrik ewe skielik, ‘n rilling gaan deur my lyf. Ek is ek terug in die kamer met die hare wat daar uitgestal lê. En dit dring deur na my. Dáái hare was eens aan lewende mense se koppe vas, het oor iemand se skouers geval.

Dit is al wat oorgebly het. Bewys van ‘n lewe.

In die stilte en donker van die vliegtuig gaan sit ek met my hare teen my wange. En begin ontroosbaar huil.