Ek Afrikaner

Ek is Elmien. Ek is ‘n Suid Afrikaner. Ek is die afstammeling van ‘n groep mense wat met bote na dié suidepunt gekom het.

Die lande waarvan my voorouers getrek het is nou vreemd vir my. My wortels het geskiet in die grond van Suid Afrika. Ek wil nie weggaan nie. Ek wil hier bly.

En dit is hoekom ek wil deel wees van die oplossing van ons land se probleme, welke oplossings in oorleg met my mede-Suid Afrikaners gevind sal word.

Sonder geweld.

My voorouers moes hulle eiendom met struike en drade beskerm. My voorouers het soms geveg vir grond, en soms beding. Maar ek kan terugskouend erken dat dié bedingings soms onregverdig was. Ek weet ook dat iets wat met geweld bekom is, nie iets is wat in vrede gehou kan word nie.

Ek weet dat onteieng sonder vergoeding al voorheen in ons geskiedenis gebeur het. Ek het na die stories geluister van my mede-landsburgers wat uit hulle huise forseer is met gewere. Waar gemeenskappe opgebreek is. En waar mense op trokke gelaai en geneem is na klein matchbox huise ver van hulle werke. En ek weet dat hulle dikwels nie daarvoor vergoed is nie.

Maar hoe vergoed mens ook vir die wegneem van ‘n keuse?

Ek weet dat daai in die psige van ‘n nasie gaan lê, en dat ons, as Suid Afrikaners, deur dit sal moet werk en dat dit ongemaklik gaan wees. Maar ek is deel van dit.

Want ek, as Suid Afrikaner, erken die ongeregtighede van die verlede wat stem uit kolonialisme en Apartheid. Ek weet dat dit nie net ‘n politieke sisteem was nie, maar ‘n sisteem wat tot die private ingedring het, wat vir mense gesê het wie jy in jou bed mag nooi, wie jy om jou tafel mag laat sit. ‘n Sisteem wat families opgebreek het, wat mense na die buiteland gedwing het, wat mense net gelaat het met drome van ‘n huis.

Ek weet ek is nie persoonlik aanspreeklik vir apartheid nie, maar daar rus nogtans ‘n morele plig op my, as Suid Afrikaner, om die ongeregtigheid van die verlede reg te stel.

Ek is deel van dié land in sy geheel. Al 55miljoen mense is my mense. En ek voel nie bedreig nie. Ons gaan nie die land regruk deur te skree nie. En regruk sal ons moet. Ons sit in ‘n moeilike plek.

Ons almal.

So ek is vandag hier. Ek, as (Afrikaanssprekende Suid-)Afrikaner, wie se voorouers deel was, wetend of onwetend, van ‘n sisteem wat Suid-Afrikaners geras en ontmens het. En dié ongeregtighede gaan langer vat as een generasie om reg te stel, so ons beter begin.

Ek is hier. Ek trek my moue op. Ek neem deel aan gesprek. Met my eie siening. Met my eie bagasie. Altyd wetend dat ek plek hou vir ander sienings.

En wetend dat ek altyd, altyd, die menslikheid van my mede Suid Afrikaner erken.