Volkspele, aparte ontwikkeling en 30 ankerdorpe

Die ander dag het ek ’n gesprek gehad met ’n kameraad oor hoe ons as Afrikaners leef in die land. Die integrasie-is-nie-assimilasie-nie gesprek. Om brûe bou is nie om mure afbreek te breek nie. En so. Die gesprek het my laat dink an dié stuk wat ek Oktober 2019 geskryf het vir Netwerk24 (dit is hier gepubliseer).

Leserswaarskuwing: Dit het ’n paar mense omgekrap.


In die vroeë 2000s het prof André van der Walt ʼn artikel gepubliseer oor die aard van die Suid Afrikaanse grondreg. Apartheid grondreg, het hy geskryf, kan vergelyk word met volkspele. Daarteenoor vra die Grondwet ʼn benadering wat vergelyk kan word met die uitdagende, maar tog vreedsame, toyi-toyi vorentoe beweging. Toe ek die afgelope paar weke die planne oor die toekoms beraad lees, het my gedagtes terug gegaan na dié artikel.

Volkspele word dikwels voorgehou as goeie, skoon, onskuldige pret. Dit kon destyds natuurlik nie “volksdans” genoem word nie, want ʼn dansery het altyd die gevaar ingehou van verleiding en seks.

Afrikaners is plesierig, maar ons maak darem nie só nie.

Die Volkspele is ook voorgehou as polities onskuldig, en die pret van die klere en die kappies aantrek het daarvan ook ʼn uitvoering gemaak.

Maar soos meeste dinge kom dié tipe kulturele skatte nooit alleen nie. Met die eeufeesvierings van die Groot Trek, het die NG kerk ingespring, die volkspele laat herleef, en is ʼn dans, die wawiel dans, gechoreografeer.

Die wawieldans vereis, losweg, dat ʼn sirkel gevorm word, die mense na binne kyk, en daar om en om ʼn as gedans word. Daar word dus beweeg, maar mens bly ter selfde tyd op dieselfde plek.

Dit word gesê dat Andries Pretorius se woorde aan Harry Smith herhaal was by dié geleentheid: “Die wiel draai in Suid-Afrika, en nog jy, nog ek, kan dit stop.”

Mens kan seker sê “hoe profeties”, maar is dit nie maar hoe die lewe is nie? Die kom en gaan, die siklusse. En soms, soos die wawieldans, die gevoel dat ons verdomp nie aan beweeg nie. Volkseenheid na volksveelheid.

Maar die volkspele was natuurlik nie so onskuldig nie. Dit was gegrond en beïnvloed deur baie spesifieke kulturele, sosiale en politieke ideale. Afrikaner nasionalisme ideale. Volkseenheid.

En dis ook waar die dans, soos die wawiel dans, baie simbolies raak. Dit maak die sirkel toe na binne. Dit is eksklusief. Dit is staties bewegend, om en om en om die as van die Afrikaner identiteit en mag.

Van der Walt het dan dié simboliek gebruik om Apartheid grondreg te verduidelik. Reëls wat onskuldig lyk, soos “aparte ontwikkeling”, maar met ‘n ideologiese onderbou van Afrikaner nasionalisme. Die reëls was die reëls. Onkrities toegepas, het dit natuurlik onskuldig gelyk. Maar ons kan nou terugskouend weet dat dié onskuldige reëls soms tot vreeslike menseregte vergrype gelei het, en dat ons steeds met die nagevolge sit en worstel.

Apartheid grondreg het ʼn kern rol gespeel in die sosiale eksperiment van Apartheid se ruimtelike segregasie. Die (wettige) onteienings, die (brutale) gedwonge verwyderings. Dit het natuurlik alles binne die raamwerk van wetgewing plaasgevind. So ook die afgradering van swartmense se regte in grond, wat hulle verblyfreg onseker gemaak het en altyd afhanklik gemaak het van ʼn ander mag. En die verskuiwing van groot groepe mense na die tuislande, waar groepe saam geforseer was wat niks met mekaar te doen het nie,weg van die sentra van werk. Gedwonge migrasie vir mans, wat familiestrukture opgebreek het. Ook dáái letsels sit nog in die land se psige.

Dan ook – die aparte spasies vir aparte groepe.

Daar is altyd ʼn dans tussen die reg, die etiek, en moraliteit. Soms dans hulle saam, soms trap hulle op mekaar se tone. Wanneer daar op tone getrap word is daar dikwels die geneigdheid om skouers op te trek en te sê “wel, dis nie teen die wet nie verduur maar die lomp dansmaat”. Net omdat dit nie teen die wet is nie, beteken nie noodwendig dat dit ʼn goeie of selfs ʼn regte ding is om te doen nie.

Dan is daar byvoorbeeld ook filosowe wat aanvoer dat ʼn ongeregverdige wet geen regskrag het nie wanneer die konflik met geregtigheid so onuithoudbaar is, dat dit as nietig gesien behoort te word nie. Dis natuurlik deels die rede hoekom Apartheid wetgewing, veral met betrekking tot grond, ligter of meer verontskuldigend aangebied word soms, of met ʼn “ja maar” of “wat van” of “dis alles die ANC se skuld”. Ons gesprekke oor die verlede gaan nie net oor die formele reg nie, daar is ʼn onderliggende normatiewe kontestasie wat ook aan die gang is.

Want die werklikheid is meer baie meer kompleks as dit. ‘n Kompleksiteit waaroor ek baie dink en waarvoor daar nie klinkklare antwoorde is nie, net tentatiewe idees wat getoets kan en behoort te word deur breë gesprekvoering.

En natuurlik is daar altyd fyn skrif en terme en voorwaardes oor die kompleksiteit en die gruweldade aan beide kante in die verlede, en hoe dit die hede behoort te vorm.

Maar wat maak ons met ekonomiese studies wat wys dat die ruimtelike segregasie steeds ʼn beduidende impak op ons samelewing het. Soos, hoe nader mens aan ‘n stadskern bly, hoe beter is jou kans op werk. En hoe verder, hoe minder, maar nie alleen dit nie, die byna onmoontlikheid om uit die armmoede draaikolk te kom. Dink dan aan die enorme informele nedersettings aan die kante van ons stede.

Dit is naïef om te dink dat die probleme wat geskep is oor ʼn tydperk van dekades en eeue, in ʼn generasie opgelos gaan word. Ja, ons kon al heelwat verder gewees het as dit nie was vir wanbestuur, staatskaping, korrupsie en ʼn mors van energie op interne ANC politiekery nie.

Afsonderlike ontwikkeling, en die gevolge van die steeds bestaande ruimtelike segregasie, het steeds ʼn beduidende impak om mense se toegang tot gesondheidsdienste, tot goeie skole, tot werksgeleenthede.

So hier sit ons, die gewone burgers, swart, wit, indiër, bruin, in ʼn gemors wat se oorsprong ook in ruimtelike segregasie gegrond is, en welke gevolge die afgelope 25 jaar nog nie behoorlik opgelos is nie.

En ons moet hier uit, anders is dit neusie verby.

Waar die destydse volkspele gefokus het op “volkseenheid”, word daar nou gepraat oor “volksveelheid”. Die oplossing lê glo daarin dat ons Afrikaners met ons pioniersgees ons aardse besittings in Biddolph trokke moet laai en die wawieldans gaan doen in 30 ankerdorpe. Om en om in sirkels, kyk na binne, eksklusief. Buite enige geskiedkundige konteks of ʼn vraag oor wat die rol was van ʼn vorige, soortgelyke, ingesteldheid, in die huidige gemors waarin ons sit.

Aparte ontwikkeling onder die dekmantel van ʼn ander naam? Soos wat volkspele nie dans is nie?

Natuurlik is die Grondwet wyd genoeg om dit toe te laat. Die Grondwet kan immers nie eeue se ingegrafeerde gene van afsonderlike ontwikkeling in een generasie uitwis nie. Die vraag is of dit in die geheel van Suid Afrika ‘n goeie oplossing is.

Ek dink dis ‘n gevaarlike plan. Dit maak nie sin dat in ʼn land waar ongelykheid só groot is, en steeds geskoei is op ras, die deel van die bevolking wat welvaart het hulleself wil afsonder en onttrek uit die samelewing nie. Nie alleen toon vele empiriese studies dat ʼn groot oorsaak van geweld ongelykheid is nie, baie studies toon ook dat indien dié ongelykheid geskoei is op ras of etnisiteit, dit die resep vir etniese geweld en burgeroorlog is.

Met 30 ankerdorpe, ʼn beweging na binne, gaan Afrikaners ʼn maklike teiken word, wat eenvoudig net nie oor die getalle beskik om te verdedig teen die onvermydelike geweld gaan gaan uitbreek nie.

Meeste van ons was nie aandadig aan Apartheid nie. Maar die historiese gevolge van die ongeregtighede van die verlede kan steeds gesien en ervaar word, veral in die ruimtelike segregasie.

As Afrikaners sal ons ʼn ander dans as die wawiel dans moet uitdink, ʼn dans wat ons plaas in die konteks van Suid-Afrika met die verantwoordelikheid wat daarmee gepaard gaan. ’n Dans wat Afrikaner identiteit omhels in die groter Suid-Afrikaanse omgewing. ʼn Dans waar ons uiteindelik ophou trek, en onsself vestig in ʼn land wat óók ons sin is.

Lees meer oor die “Groot trek” na die 30 Ankerdorpe hier.